Van al die huise wat ek ooit bewoon het - en daar was baie, in vier streke van ons land Suid-Afrika - is Droomves op Heroldsbaai, die huis wat ons Lochnergesin geëienaar-bou het, vir my die mees magiese. Dié foto het ek geneem tydens my laaste besoek; die trap op die Rooidraai, wat toegang verleen tot "ons" huis en die tuin wat dit omring. Ons sal altyd deel wees van Droomves en Heroldsbaai; dit was 'n voorreg om daar te woon.
0 Comments
Ek is in hierdie wêreld gebore ... Elliot, Barkly-Oos ... En steeds is alles wat ek doen, gerig op dit wat sneeu, wolke, mere en berge my geleer het: iewers sak die skaduwees en die koue vinnig op die aarde toe. Werk asof elke dag jou laaste is, want eendag kom ons by die Bergtop waar ons tot in Ewigheid sien ... en dan eers mag ons rus van horlosies, omwentelings en drome. Dan is ons tuis binne sy Droom.
For my English friends:
Floating in Cyber space is very real. Accumulation of mass information, some unfortunately negative. Like the bitter and wry man, who knows who he is. Who told me my truths are fiction. I almost said: "Monkey". Al kom ek nie te dikwels by my eie skryfwerk uit nie, is ek steeds doenig in die kuberruim. Ek dink om rond te "sweef" is baie werklik, al is daar karakters wat die realiteit daarvan betwyfel.
Massiewe hoeveelhede data word geabsorbeer, selfs en juis sonder dat die kuberswewer daarvan bewus is. Dikwels ongelukkig ook massas negatiwiteite. Soos die arme ou bitterbek, wat weet wie hy is. Nou vra ek jou, nie-handwringende en met traanlose oë: wat laat enige normale intelligente wese dink dat "sweef" fiksie is? GRINNIK Amper seg ek "Aap". 'n Mens verlang soms na 'n plek wat naby is, asof dit baie, baie ver is.
Vir my is so 'n plek Heroldsbaai. Ons huis, Droomves, regbo die Rooidraai, ge-eienaarbou deur die Lochner-gesin, behoort nie meer aan die Lochners nie. Maar, elke trappie eggo nog ons sewe se voetstappe. Elke deurkosyn hang nog die deure wat stormwind moes buitehou. En die metersdiep rooisteenonderbou vestig steeds 'n deeglike fondasie. "Grawe tot op klip!" het Johann die handlangers opdrag gegee. "Daar is meer steen ondergronds as bogronds!" het Johann altyd gespot. Droomves staan nog stewig, hemelhoog, en nog stewiger in ons harte, waar ons die Droom vestig. En deur die ruim swewe stilswygende seemeeue nog steeds witspikkel teen blou. En die son skilder steeds karmosyn teen skemertyd. Een van ons sewe is reeds Tuis. Hy het altyd een versugting gehad: om helder in die hemelkoor te sing. Ek glo sy versugting is verhoor. Francois Henn, vriend en voormalige hoof van die Laerskool Outeniqua, wat 'n paar jaar gelede oorlede is, het twee karikature van my geteken tydens die Slagsinkompetisie van 1998 - 1999. Hier is die een wat hy "weggegooi" het en ek toe uit die snippermandjie gered het. Die "geslaagde" een is op die Slypskoolblad. Foto: Myra Lochner, Ruïne, Ruiterbosch, distrik Mosselbaai
Hierdie foto, geneem op die gronde wat vroeër my oupa se plaas, Glenheath, omring het, is vir my baie simbolies. Deur nie te doen nie, kan 'n mens jou drome nie in stand hou nie ... en dan word jou vergesigte verlede en ... bouvalle. Maar selfs in die bouval is daar wesenlike skoonheid van verval. Daar sal altyd die moontlikheid wees van herstel en rekonstruksie ... altyd 'n begin wees ... ook na die einde. |
Myra LochnerEk is basies 'n gelukkige, tevrede siel. Swaarkry is vir my geen probleem nie, maar die kreatiewe koevoet waarmee ek onbeweeglike klippe uit die weg rol. Archives
October 2017
Categories |